Ń Deurmekaar Hart…

Die laste 10 dae was hel gewees. Ek is ń swak mens…regtig…ek kan siekte nie hanteer nie. Ek wil weg hol…

Ons seuntjie se oogtande het besluit hulle gaan amok maak. Sy arme “gums” is al vir MANDE geswel, en woeps! Daar pop die 2 onderste tandjies sommer saam uit. Jippie! Ek is so bly, ek wil net dans, en ek drink sommer ń glasie wyn! Tjorts! Op jou “pearly whites” Boeta!

Ń week later begin ons Bulletjie met koors… soms het dit op gegaan na 41°. Ons het nie ń ongevalle nie, ook nie ń pediater nie…”so you have to go with the trusty old GP’s advice”…en so hier en daar ń boereraat…

Spons jou kind in koel water af – “Ok Dok! No problem!” Ons het darem nie water probleme in ons “Valley” nie, (baie dankbaar 🙏) maar hy skree blou moord! So mamma klim maar saam in die water…en dis vrek koud…Mamma bewe maar saam. Boeta raak later potblou van die koel water, en my hart breek vir my kind.

Gee setpille elke 6 uur vir die koors… Mamma en Pappa voel later soos ń setpil, Boeta loop al knyp-knyp as hy die boksie sien. Oja…glad ook nie so effektief soos altyd nie…terug bad toe.

Gee rooikoeldrank om die koors te breek… Cool! Net tot Boeta opgooi…en HIERDIE Mamma kan dàài move nie hanteer nie… sy arme Worsie (tuis-gebreide hanswors wat sy Oumie gebrei het) het amper in die Dokter se spreek kamer se asdrom beland…( sorry maar ek het regtig nie geweet wat om met ń hanswors te maak wat vol…Oeps is nie…) Gelukkig het Oom Dokter vir Worsie gered. Ouma moes hom was! Weer ń keer…

Gee ń koorsstropie… sharp! Het jy al met ń 20mande peuter gestoei om medesyne in te kry? Goeie oeffeninge hoor! En dan beland dit gewoonlik op arme Pappa… Ek is seker daarvan boeta ruik as ons dit in sy melk gooi! Hy is maar baie sku vir daai bottel.

2 Goudgeel mangels sorg vir nog so bietjie “pret”, en ons het nog antibiotika wat ons moet in kry! Nou kyk! Ek is ń vol uitgegroeide vrou, en ek sal nie eers daai slegte goed wil drink nie. Gelukkig is daar mos Oumas en Oupas! Hulle het baie meer gedult, en kry baie meer reg as Mamma en Pappa ( wat nie meer helder dink nie, want ons het nagte laas geslaap.)

Na 8 dae is daar verbetering en Boeta begin raak weer sy ou self. Sharp! Mamma drink wyn! (Ek moet ook net bysê, Pappa drink nie, so ek voel so bietjie skuldig, maar 1 glasie is seker darem nie te erg nie…of hoe…?)

Ek besef dat daar krag is in Gebed! Regtig! Boeta is beter, en so bietjie stout…

En nou…

Skoonma…my arme Skoonma…sterk vrou, wat ook nie meer só sterk is nie, beland vandag in die kliniek. Die toetse sê dit is nierversaking. Dit voel of my wind uitgeslaan is. My arme Man…Skoonpa en Skoonsuster is 9 jaar terug saam met Skoonma deur ń moeilike siekbed. (Nog voor ek hulle geken het) Mamma het baklei! Mamma het gesond geword! Mamma het nog elke keer opgestaan uit die hospitaal bed in die afgelope 8 jaar, en huis toe gekom. Vanaand lyk sy so weerloos, maer en moeg. Weereens, daar is Krag in Gebed. Dit is al wat my Skoonma nou sal dra. Bid vir plek by ‘n Spesialis, Bid vir beterskap, Bid vir krag sodat sy kan baklei.

Vanaand wonder ek net… wat het die Mammas en Pappas 50 jaar terug gedoen met kinders wat siek is? Ek dink nie daar was “glorified” setpille nie, dalk net Panado? (My ma se Panado hou nie eers die vlieë weg nie)

Wat het die oumensies 50jaar terug gemaak as hulle siek was? BloedToetse was beslis ń “luxury”. Kon hulle die suurstof meet? Kon hulle effektief dadelik bloeddruk en suiker meet? Kon hulle dadelik die extrale bekyk? Kon hulle ander pynstillers gee as Morfien?

En hier sit ek, moedeloos en jammer vir my mense wat deur ń moeilike tyd gaan. Ek mag wees! Ek mag jammer wees vir my Skoonma wat siek is, Skoonpa wat bekommert en hardseer is, my Man wat ń hulpelose trek op sy gesig het, my Skoonsussie wat vêr is… want dis mý mense! Bid sal ek Bid!

Baie liefde

Pandora


Comments

9 responses to “Ń Deurmekaar Hart…”

  1. Ek dink elke ouer het ‘n storm of twee beleef met hul kinders en daar is ander wat ook al deur die pyn en hartseer is van ‘n ouer wat siek en gehospitaliseerd was… Nie almal beleef dit die selfde nie. Ek bid vir julle almal vir genade, krag, rus, vrede, genesing en liefde in Jesus se teenwoordigheid daar waar elkeen sy en haar eie emosies en pyne beleef. Sterkte vir julle…

    Liked by 1 person

  2. Liewe Pandoratjie, dis elke huis se kruis en ek het net vanoggend vir al my blogmaats gebid. So jy is ingesluit hierby. Spoedige beterskap hoor?! Baie seen en sterkte⚘

    Like

  3. Ek voel saam met jou. Dis presies hoe die lewe vir meeste van ons verloop. Daar sal altyd siekte en ellende wees, maar daarna kom weer goeie tye, wat mens moet aangryp en voluit geniet. Baie sterkte en liefde vir jou skoonmammie.

    Liked by 1 person

  4. Ja, maar jy het NIE weggehol nie – jy het tot saam met jou seuntjie in daai koue bad water ingeklim! Dapper vrou.

    Liked by 1 person

  5. Baie baie sterkte. Lank terug was my jongste meisiekind ook so siek, met koors wat net nie wou weggaan nie. Mens voel so magteloos. Ek is seker jy voel so met skoonma ook. Weereens baie sterkte en spoedige beterskap

    Liked by 1 person

  6. Siekte maak nie net die lyer swakker nie, maar tref al die geliefdes wat bystaan ook. Sterkte vir jou en jou familie.

    Like

  7. Hoop dat dit, teen hierdie tyd, baie beter gaan. Sterkte.

    Like

  8. Daar is niks wat ń mens so weerloos laat voel as waneer jou kind siek is nie. Glo my, selfs nou nog, al is hulle volwassenes, tref dit my hard. So, ek verstaan. Soos Frannie tereg sê, jy het nie weg gehardloop nie, ook nie loop lê nie, jy het jou staan gestaan en jou bid gebid. Nou net vertrou. Sterkte.

    Liked by 1 person

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started