‘n Brief in die pos

Vintage-Style-Airmail-Envelopes-x-10-Wedding-Craft-Paris-Favours-[2]-730-p

Wanneer laas het jy ‘n brief in die pos gekry? Ek praat nie van ‘n bankstaat, Edgars rekening of jou munisipale rekening nie. Ek praat van ‘n brief. Iets wat iemand vir jou stuur met wie jy nie elke dag kan praat nie.

My Pa was ‘n bankbestuurder, so ons het nogal gereeld getrek. Briewe was die enigste manier om in kontak met my maatjies te bly. Telefoonoproeppe was baie duur gewees. Selfone het net ingekom, maar was iets wat net die Dokter en die Prokureur op die dorp gehad het. Ag, en ‘n telegram was dáái tyd uit die mode.

Ek onthou as kind, so ongeveer 20 jaar gelede, was dit vir my ‘n moerse oomblik as ek ‘n brief in die pos gekry het! Die opgewondenheid! Ek kon my oë nie glo nie! Dit was absoluut die hoogtepunt van my dag gewees. My ma sou na skool vir my van die werk af laat weet het dat daar ‘n brief vir my gekom het. Dan het ek die hele middag gewag, en gewag, en gewonder… ek het sommer vir my mooi netjiese klere aan getrek, en my bos hare probeer kam. My kop was die hele middag by die brief… watter maatjie het dit gestuur? Is daar ‘n prentjie in? Wat staan in die brief?

Uiteindelik as my ouers by die huis gekom het, het ek dadelik my ma se handsak aangeval opsoek na my brief. Ek probeer die handskrif uitpluis…wie het dit gestuur? Dan sal ek alleen na my kamer toe gaan, en soos ‘n wafferse dame op die bed gaan sit en die koevertjie oopmaak.

Volgende, baie belangrike stap: Kyk hoeveel bladsye is die brief. Hoe meer bladsye, hoe meer nuus!

Volgende stap: bekyk die papier. Ons het altyd vir mekaar op sulke gekleurde blommetjie – papier geskryf.  Ek sal dan die brief oor en oor lees om seker te maak ek het alles raak gelees, en die nuus vir my ma gaan gee. Die brief word uiteindlik by al my ander briewe gebere, en word vir dievolgende 2 dae ten minste een keer ‘n dag gelees. Ek spring dadelik aan die skryf. Ek moet mos terug laat weet!

Liewe Alet,

Baie dankie vir jou brief…

My Ma moet weer bode speel en die brief asseblief môre gaan pos. Nie die dag daarna nie! Môre! So het ons klom kinders onder mekaar geskryf.

Toe word telefoonoproeppe goedkooper, en Selfone begin raak meer algemeen. Dan het ons smse van ons ouers se fone af vir mekaar gestuur, want skryf was to skielik so boring. Verjaarsdae en Kersfees het gekom, en so het ons kinders selfone begin kry, en direk met mekaar gepraat. Eers net een keer ‘n week gesms, want die sakgeldjies was min en airtime was duur. Iewers het Mixed ingesluip, en nog ‘n hele paar ander maniere om boodskappies oor die selfoon te stuur. Die briewe het minder geword in die pos, en later jare het E-posse meer algemeen geword. As jou ouers ‘n E-pos adres gehad het was hulle amper net so cool soos die rykste oom op die dorp! Amper!

Toe ons weer ons oë uitvee, het E-posse, watsup, Skype, Facebook en Twitter die wêreld oorgevat. Al wat nou in die pos kom, is ‘n paar venster-koevertjies met hier en daar ‘n rekening in, advertensies en iemand wat een of ander nuwe diens in die dorp lewer, en ‘n brief van die ontvanger van inkomste af.

Ek raak nie naastenby so opgewonde oor ‘n watsup of E-pos soos wat ek oor ‘n brief geraak het nie. Ek gaan haal nog soms pos uit, en kyk dan nogsteeds vinnig of daar nie een of ander onbekende koevertjie in die pos is nie, maar niks… Nie eers meer trou uitnodigings nie. Dit kom ook deesdae met die nuwe tegnologie aan.

Ek dink as ek vandag ‘n brief vir my Ma of my vriendinne stuur gaan hulle dink ek is heel kens. Het jy teveel wyn gedrink?  Nee, ek mis net ‘n brief in die pos!

 

###Pandora###

 

 

 


Comments

9 responses to “‘n Brief in die pos”

  1. Jy praat so reg na my hart. Ek was so ń flukse briefskrywer. Het my tuis gemaak met ń pot tee, die skryfgoed nader getrek en dan heerlik gekuier op papier. My woorde het makliker met die pen gekom as met die getikke tak.

    Liked by 3 people

  2. Ek was en is net so brief-mal. Kon bladsye lank skryf. Daai rondkyk in die winkel om net die regte papier en koeverte te kry wat pas… Ek mis dit net so. My ma het toe ek op die kibbutz was elke dag vir my ‘n brief geksryf vir my 6 maande daar, dit was pure opwinding en al die volenteers het kom sit om te hoor hoe dit op die plaas gaan en wat in Rustelose Jare gebeur😄😄😄. Jy is reg, dit is so thrill om ‘n brief te kry. Ek hou elke nota en briefie wat Padda vir my skryf want dit is so spesiaal. Dankie vir die lekker onthou🌻

    Liked by 1 person

  3. Ek is ook mal gewees oor briewe! Die opwinding van een ontvang, die papier en al die lekker lees nuus! Om te dink, nou het ek nie eers ‘n posbus nie…

    Like

  4. Ai, die goeie ou dae van briewe skryf! Ek en my man het oor die pos gevry. Hy stuur Maandag sy brief en ek antwoord Woensdag of sodra ek brief kry en dieselfde week kry hy n brief terug. Dan kuier ons die naweek by mekaar en Maandag is daar weer n brief want hy het myne Vrydag gekry en geantwoord.

    Like

    1. Ons het ook nog oor die pos gevry. ❤️

      Like

  5. Ai dis spesiaal!

    Like

  6. By ons plaasgastehuis het ons poskaarte en moedig die gaste aan om vir iemand ‘n briefie te skryf. Ons sal die seël opplak en dit pos. Maar weet jy wat is die probleem? Mense het nie meer posadresse nie!

    Like

  7. elrehugo Avatar
    elrehugo

    Oe ek onthou die dae van briewe skryf! Ek het penmaats regoor die wereld gehad. Ek kyk nou nog elke dag in die posbus vir ietsie anders as die gewone “junk” selfs al weet ek niemand het ny adres nie, maar net dalkies het iemand my opgespoor. Ek het altyd prentjies geteken en die papier met perfuum gespuit. Ai, die lekkerte! En toe begin papier versamel vir die briewe! Ek wonder of dit by die persoon sal uitkom as jy vandag ‘n brief pos🤔

    Liked by 1 person

Leave a reply to trommeltjies Cancel reply

Design a site like this with WordPress.com
Get started