Die laste 10 dae was hel gewees. Ek is ń swak mens…regtig…ek kan siekte nie hanteer nie. Ek wil weg hol…
Ons seuntjie se oogtande het besluit hulle gaan amok maak. Sy arme “gums” is al vir MANDE geswel, en woeps! Daar pop die 2 onderste tandjies sommer saam uit. Jippie! Ek is so bly, ek wil net dans, en ek drink sommer ń glasie wyn! Tjorts! Op jou “pearly whites” Boeta!
Ń week later begin ons Bulletjie met koors… soms het dit op gegaan na 41°. Ons het nie ń ongevalle nie, ook nie ń pediater nie…”so you have to go with the trusty old GP’s advice”…en so hier en daar ń boereraat…
Spons jou kind in koel water af – “Ok Dok! No problem!” Ons het darem nie water probleme in ons “Valley” nie, (baie dankbaar 🙏) maar hy skree blou moord! So mamma klim maar saam in die water…en dis vrek koud…Mamma bewe maar saam. Boeta raak later potblou van die koel water, en my hart breek vir my kind.
Gee setpille elke 6 uur vir die koors… Mamma en Pappa voel later soos ń setpil, Boeta loop al knyp-knyp as hy die boksie sien. Oja…glad ook nie so effektief soos altyd nie…terug bad toe.
Gee rooikoeldrank om die koors te breek… Cool! Net tot Boeta opgooi…en HIERDIE Mamma kan dàài move nie hanteer nie… sy arme Worsie (tuis-gebreide hanswors wat sy Oumie gebrei het) het amper in die Dokter se spreek kamer se asdrom beland…( sorry maar ek het regtig nie geweet wat om met ń hanswors te maak wat vol…Oeps is nie…) Gelukkig het Oom Dokter vir Worsie gered. Ouma moes hom was! Weer ń keer…
Gee ń koorsstropie… sharp! Het jy al met ń 20mande peuter gestoei om medesyne in te kry? Goeie oeffeninge hoor! En dan beland dit gewoonlik op arme Pappa… Ek is seker daarvan boeta ruik as ons dit in sy melk gooi! Hy is maar baie sku vir daai bottel.
2 Goudgeel mangels sorg vir nog so bietjie “pret”, en ons het nog antibiotika wat ons moet in kry! Nou kyk! Ek is ń vol uitgegroeide vrou, en ek sal nie eers daai slegte goed wil drink nie. Gelukkig is daar mos Oumas en Oupas! Hulle het baie meer gedult, en kry baie meer reg as Mamma en Pappa ( wat nie meer helder dink nie, want ons het nagte laas geslaap.)
Na 8 dae is daar verbetering en Boeta begin raak weer sy ou self. Sharp! Mamma drink wyn! (Ek moet ook net bysê, Pappa drink nie, so ek voel so bietjie skuldig, maar 1 glasie is seker darem nie te erg nie…of hoe…?)
Ek besef dat daar krag is in Gebed! Regtig! Boeta is beter, en so bietjie stout…
En nou…
Skoonma…my arme Skoonma…sterk vrou, wat ook nie meer só sterk is nie, beland vandag in die kliniek. Die toetse sê dit is nierversaking. Dit voel of my wind uitgeslaan is. My arme Man…Skoonpa en Skoonsuster is 9 jaar terug saam met Skoonma deur ń moeilike siekbed. (Nog voor ek hulle geken het) Mamma het baklei! Mamma het gesond geword! Mamma het nog elke keer opgestaan uit die hospitaal bed in die afgelope 8 jaar, en huis toe gekom. Vanaand lyk sy so weerloos, maer en moeg. Weereens, daar is Krag in Gebed. Dit is al wat my Skoonma nou sal dra. Bid vir plek by ‘n Spesialis, Bid vir beterskap, Bid vir krag sodat sy kan baklei.
Vanaand wonder ek net… wat het die Mammas en Pappas 50 jaar terug gedoen met kinders wat siek is? Ek dink nie daar was “glorified” setpille nie, dalk net Panado? (My ma se Panado hou nie eers die vlieë weg nie)
Wat het die oumensies 50jaar terug gemaak as hulle siek was? BloedToetse was beslis ń “luxury”. Kon hulle die suurstof meet? Kon hulle effektief dadelik bloeddruk en suiker meet? Kon hulle dadelik die extrale bekyk? Kon hulle ander pynstillers gee as Morfien?
En hier sit ek, moedeloos en jammer vir my mense wat deur ń moeilike tyd gaan. Ek mag wees! Ek mag jammer wees vir my Skoonma wat siek is, Skoonpa wat bekommert en hardseer is, my Man wat ń hulpelose trek op sy gesig het, my Skoonsussie wat vêr is… want dis mý mense! Bid sal ek Bid!
Baie liefde
Pandora
Leave a reply to Thomas Cancel reply